(Scroll from top to bottom to subscribe to pandoradosie.wordpress.com)
Ek is ‘n totale dwelmverslaafde. Ek is verslaaf aan LSD en kan niks doen sonder my daaglikse “fix” nie. Dit moet deur my lyf vloei en in my are borrel. Hiersonder kan ek nie deur die dag kom nie. “Cold turkey” is ‘n lelike ding en soms wil ek struikel, want ‘n verslaafde soos ek smag elke dag na sy LSD: Liefde, Sekuriteit en Dissipline.
Die LSD wat deur my are vloei, is die grond waarop ek staan.
Van grond gepraat, die slim mense sê daar is 3 tipes grond: sand, klei en leem. Ek, wat nie groen vingers het nie, moes mooi oplees om te verstaan wat elkeen beteken.
Sandgrond is grof. Die sanddeeltjies is los van mekaar en water dreineer weg. Daarom het jou plantjie baie liefde en aandag nodig. Liefde is ‘n werkwoord, want dit kos werk om te gee én om te ontvang. Gaan jy werk maak daarvan om te keer dat jou water wegvloei in die sand?
Tog verkies party mense om hul grond grof te hou vir ander se liefde. Tog verkies party mense om hul water te laat val op onvrugbare grond. Ons ontvang liefde, maar gooi dit weg. Ons gee liefde, maar vir verkeerde redes.
Wil jy met min voedsel, met min liefde deur die lewe gaan? Wil jy op die sand bly trippel? Die wyse Ghandi het geglo dat daar waar liefde is, daar is die lewe.
Kleigrond is weer fyn en taai. Daar is min spasie vir water en lug om deur te kom. Sekuriteit is ook fyn – ‘n fyn lyn waarbinne ons moet trap.
Hoe lyk die beskerming van jou kind in jou huis? Taai en fyn met min spasie vir jou kind om asem te haal? Indien so, gaan die wortels maar stry en beur na onder. Ons kinders wil beskerm word. Hulle wil roetine en stabiliteit in óns besige lewens hê. Hulle wil weet daar is ‘n ouer, onderwyser en ‘n vriend wat agter hulle staan
Grond is die antibiotika van die natuur, so wat van ons kry die perfekte grond? Die perfekte mengelmoes van sand en klei, die perfekte LSD. Leemgrond is die dissipline waarbinne ons blare kan groen raak, waar ons wortels diep kan groei en ons blomme die lig in ander se lewe kan wees.
Ons sukkel maar vandag met dissipline – nie omdat ons nie omgee of minder weet nie, maar omdat ons so min tyd het en ons samelewing so vinnig groei. Ons vergeet hoe om ons grond die regte behandeling te gee. Nie net kinders nie, maar álmal van ons het dissipline nodig. Daarsonder is ons soos skape in stormreën.
‘n Saad word gesaai en ‘n nuwe plant ontvang lewe. Net so word LSD in ons are gepomp en ‘n nuwe mens kry lewe. Is jou grond sanderig, taai soos klei of ideaal soos leem?
George Washington sê dissipline is die siel van die weermag, liefde die krag waarmee jy jou vyand jou vriend kan maak en sekuriteit is die brug wat jou oor die water neem.
Hoe lyk jóú grond?
(Om in te teken op Panodora se Dosie, scroll op en opsies sal verskyn. So is jy verseker om haar nooit mis te loop nie. Dit krenk enige vrou se ego as sy geïgnoreer word.)

One response to “Die LSD in my are”
Uitstekend gesê! Dankie dat jy jou kuns deel!
LikeLike