Die mooiste kom ná die dood

Neem nou maar vir Vincent van Gogh – die sukkelende kunstenaar wat net een skildery kon verkoop. Die Nederlanders glo dat Rembrandt van Rijn de voorloper in Nederlandse kunstkringen met van Gogh vlak achter hem is, maar vir my is Vincent Willem van Gogh veel kleurryker.

Die mal ou met die af-oor wat tot vandag nog wêreldbekend en bitter geliefd in sekere kringe is. The Redheaded Madman  en die Tortured Arist  het die wêreld gewys hy kan, al kom alle lof hom eers jare later toe. Voorloper in post-impressionisme – ‘n term wat hyself seker nie eers geken het nie!

Met 900 skilderye en 1100 sketse later. Wil gedoen wees, nè? En dit slegs binne die laaste tien jaar van sy lewe. Amper ‘n kunswerk elke 43 uur as my somme reg is.

Van Gogh is op 30 Maart 1853 in Zundert, Nederland gebore en sewe-en-derig jaar later op 29 Julie 1890 in Frankryk oorlede. In die vreemde. So sad.

Theodore van Gogh en Anna Carbentus van Gogh het sewe kinders gehad met die oudste doodgebore. ‘n Armoedig bestaan in ‘n pastorie. Theo, tweede oudste, was Vincent se grootste vriend, seker ook sy enigste. ‘n Kunshandelaar wat Vincent  onderhou het en ses maande na hom oorlede is. Hul grafte langs mekaar in Auvers-sur-Ois, Frankryk.

Anna van Houten, die tweede Van Gogh-kind, raak vervreemd van haar gesin, Elisabeth Hubert (Lies) van Gogh was ‘n skrywer, Wilhelmina (Wil) van Gogh was die jongste, ongetroud, ‘n vurige feminis en net soos haar broer, was sy opgeneem in ‘n inrigting vir geestessiektes tot die dag van haar dood.

Baie interessant is dat Cornelius (Cor) van Gogh, die jongste, in Suid-Afrika gaan werk en met ‘n Suid-Afrikaanse vrou getroud was. Hy word ‘n ambulansbestuurder tydens die Anglo Boereoorlog waar hy hom by die boerevegters skaar. Hy pleeg selfdood in die hospitaal nadat hy met ergstige koors opgeneem is. Hy is in ‘n ongemerkte graf in Brandfort begrawe. Die wêreldberoemde Van Gogh se broer lê iewers in ‘n graf in Suid-Afrika. Kan jy nou meer!

Vincent het aan die Royal Academy of Fine Arts in London studeer, maar was nooit juis gaande oor sy studies nie. Hy val rond tussen beroepe van ‘n lekeprediker, onderwyser tot kunshandelaar, maar vind nêrens sy voete nie. Sy bure trek ‘n petisie op om hom uit die buurt te laat verwyder as gevolg van sy snaakse gedrag. Die polisie raap hom op en hy word in ‘n hospitaal vir geestesiektes geboender as gevolg van hallusinasies, depressie en aanvalle. Moontlike skisofrenie en Geschwind-sindroom met epilepsie word gediagnosseer. As gevolg hiervan is hy in en uit hospitale en van daar die naam Mal Rooikopman.

Koffie, brood, sy pyp en alkohol hou hom aan die lewe en aan die skilder. Op 33-jarige ouderdom gaan sy gesondheid erg agteruit en sy tande begin uitval. Hy sê aan Theo dat hy nog net ses warm etes vir die jaar gehad het. Armoede en ‘n kop wat snaakse stories met hom praat, is al wat hy ken, maar hieruit het hy wondelike kunswerke geskep. Hy het geglo die lewe is niks as ons nie die wil en moed het om iets te probeer nie.

Op ‘n dag kry hy stry met ‘n kennis, Gauguin, en dreig hom met ‘n skeermes. In die geveg sny hy sy eie oor af. Dit draai hy in ‘n lap toe en gee aan ‘n prostituut waarmee hy vir ‘n wyle saamgebly het. Om sy kop draai hy nog ‘n lap en skilder homself net so; hy was lief vir selfportette. Maar wat kan jy ook doen as jy nie geld vir modelle gehad het of nie baie mense geken het wat vrywillig wou poseer nie. So sien ons vandag sy selfportette: ongeskeer, vuil, ingesonkte oë en hier en daar ‘n missing tooth.

Nooit getrou nie, geen kind of kraai, net die stories in sy kop wat hy so mooi op doek kon verewig.

Die bekende Starry Night word in die hospitaal tydens ‘n periode van mania geskilder. Hierdeur wys hy sy siening van dag en nag. Die sonopkoms, maanopkoms, sonnige dae, bewolkte dae en reëndae. Hy het gedink die nag is lewendig en ryker as die dag. Hy het geglo om na die sterre te kyk, laat hom slaap. Hy het gedroom hy skilder, wakker geword en dan sy droom op doek gesit. Hy was lief vir kleur en het geglo dat daar geen blou sonder geel en geel sonder oranje is nie. Hoe mooi is dit nie!

Op ‘n dag loop hy uit die hospitaal weg. Sy toestand vererger tot op ‘n punt waar hy homself in die bors skiet. “The sadness will last forever”, was sy laaste woorde aan sy broer, Theo. En altyd het hy gewonder hoekom mense hom nie net wil aanvaar soos hy is nie.

‘n Gevalle meester met hart en siel in sy werk, maar sy kop het hy in die proses verloor – sy eie woorde. Self was hy nie geliefd onder mense nie, maar tog geglo daar is niks so goed soos om ander lief te hê nie.

Hoeveel Vincints loop nie tussen ons rond nie? Misgeliefd, miswaardeer, uitgestoot. Hulle wat kleur sien wat ander miskyk. Mal-rooikop-sonder-‘n-oor, ek salueer jou. EK SIEN JOU STERRE RAAK!

One response to “Die mooiste kom ná die dood”

Leave a reply to Positief Cancel reply