‘n Oog vir ‘n oog  en ‘n tand wat klou

My kennis oor moordenaars is beperk, maar my vrae oneindig wyd. Die afgelope tyd het ek Amerikaanse dokkies gekyk oor Kenneth Bianchi, oftewel die Hillside Strangler, wat 12 vroue verkrag en verwurg het, asook John Wayne Gacy wat 33 tienerseuns vermoor het.

En ek sê vir myself: waddehel! Hoe kom ‘n mens by daardie punt in jou lewe uit? Beide het so normaal voorgekom – beide was getroud gewees.

Reeksmoordenaars is wêreldwyd, tot hier aan die suidpunt van Afrika en dit maak nie saak hoe ons hierna kyk nie, alles loop altyd terug na die kinderjare. Dáár het die drol al diep in die drinkwater geval. As ons na Boetie Boer, oftewel Stewart Wilken van Suid-Afrika, kyk, dui dit op ‘n mens wat as kind afskuwelik blootgestel was aan molestering, verwaarlosing en geweld. Gaan lees gerus oor hom. Binne ‘n periode van sewe jaar het hy vroulike prostitute en jong seuns verkrag, sodomeer en vermoor; onder andere sy eie dogter en stiefseun. Hy het gedoen aan sy slagoffers wat aan hom gedoen is – die passiewe kinderslagoffer raak die volwasse aggressor.

As ons na reeksmoorde kyk, is daar sekere punte wat uitstaan: drie of meer moorde op verkillende tye en plekke, daar is fantasieë betrokke, hetsy seksueel of geweldadig, daar word nie gemoor vir geld of om te steel nie en gewoonlik is die slagoffers vreemdelinge. Fantasieë, waarvan die persoon onbewus is, lei tot marteling, seksuele mishandeling, verminking en nekrofilie (seks met ‘n lyk). Hulle het nie die wilskrag om dit te beheer nie. Hulle is nie satanisties nie, want hulle moor om eie behoeftes te bevredig. Snaaks genoeg, baie van hulle is vreeslik godsdienstig en beskou hierdie daad wat hy pleeg as regverdiging vir dit wat hy in sy kinderjare deurgegaan het.

En natuurlik is daar geen gewete betrokke nie.

Hoekom moor ‘n mens bloot as gevolg van ‘n fantasie? Ons almal het een of ander fantasie, but we don’t act it out – nie op só manier nie. Wat sou so verskriklik met ‘n kind gebeur het dat hy so ver sal gaan om te martel en te moor?

Ek vra myself, as een kind uit ‘n huishouding so ver sal gaan om ‘n reeks moorde te pleeg as gevolg van dit wat met hom as kind gebeur het, hoekom volg die res nie? Die slim mense sê dit hang af van wat die persoon se interne reaksie op negatiewe invloede is. My kop wil nie hierom vou nie en soos ‘n flat earther staar ek die vlaktes in.

Maar waar kom die gewete vandaan? Wat vorm en bou dit?

Ek verstaan dit so: kinders gaan deur verskillende psigoseksuele ontwikkelingsfases en as daar ‘n haas in ‘n wip beland gedurende een van hierdie fases, is jy ge-schnei! Reeksmoordenaars fikseer tydens hierdie fases en bêre hierdie fantasieë baie diep. As ‘n kind tydens die latente fase van sy lewe nie sosiaal ontwikkel soos hy moes nie, ontwikkel daar bloot nie ‘n gewete nie – wat daartoe lei dat die fantasie na die oppervlakte beweeg.  Op ‘n tyd waar die selfbeeld in gedrang kom en die persoon voel geen selfwaarde nie, leef hy bloot sy fantasie uit sonder ‘n gewete. Wat hom dan natuurlik laat voel hy is koning van die oerwoud en met hierdie almagtige gevoel raak sy fantasieë realiteit. Maar hoekom herhaal en herhaal? Die realiteit is nie so lekker en so perfek soos die fantasie nie en daarom hou hy aan om perfeksie te kry. Aanhouer wen, my lam.

Sigmund Freud het sy teorieë rakende fantasie gehad. Hy het geglo dat elke mens deur verskillende psigoseksuele ontwikkelingsfases gaan en in elke fase word daar gefikseer – en as hierdie fiksasies nie opgelos word nie, really bad shit later kan gebeur. Wat sin maak, want as ‘n mens na hierdie fases gaan kyk, pas alles in plek. Maar dis ‘n onderwerp vir ‘n ander dag.

Wat die vraag laat ontstaan: is dit regverdig om so ‘n persoon die doodstraf of lewenslange tronkstraf te gee? ‘n Mens wat as kind so vertrap is dat daar geen kans was om normaal te ontwikkel nie. Al hierdie gevalle het op sielkundiges en psigiaters se lessenaars beland en by feiltlik almal was die slotsom: as hierdie persoon ooit weer in die samelewing losgelaat word, hulle seersekerlik weer sal moor.

So, ja, hy moet verwyder word – maar is dit regverdig? Waar was die hulp dan vroeër? Sou dit help? Maar Frans Kafta sê vir ons: “It is often safer to be in chains than to be free”. Nog steeds voel dit eerder of ek daai ma of pa ‘n natklap kan gee. Wat dink julle?

-Lizanne Gerber Kruger-

Pistorius, M. 2012. Skimme in die Skadu: ‘n Profielsamesteller se ware verhaal. Suid-Afrika: Penquin Random House.

2 responses to “‘n Oog vir ‘n oog  en ‘n tand wat klou”

  1. Jammer vir sy shit kinderlewe maar onskuldige mense mag nie boet daarvoor nie. Hy hoort nie in die samelewing nie!!!!

    Like

  2. Ek luister True Crime South Africa en daar is hierdie vraag al ‘n paar keer gevra. Aan die een kant voel ek jammer vir die oortreder, maar elke keer voel ek jammerder vir die slagoffers. Daar is ook vele mishandelde kinders wat nie moor nie, wat het dan reggegaan met hulle? Moord is verkeerd, punt.

    Like

Leave a reply to Positief Cancel reply