(Scroll from top to bottom to subscribe to pandoradosie.wordpress.com)
Baie nuwe woorde duik deesdae op, maar die een wat my tans fassineer, is wokeness. En daar is geen Afrikaanse term daarvoor nie. So kom ons wees nou maar in Afrikaans ook net woke.
Of wil ons?
Om woke te wees beteken dat jy bewus is van kulturele, politieke en maatskaplike kwessies. Jy is sensitief en klim op jou agterpote as dit by diskriminasie en ongeregtigheid kom. Jy is inderdaad wakker!!
Jy erken dat rassisme, seksisme en homofobie skadelik is. Jy toon begrip vir ander se probleme en hul stryd vir geregtigheid.
Die kort en die lank is: jy’s ‘n engel, en enige skoonma se droom.
So wil dit voorkom…
Ek skaar my natuurlik by hierdie groepe, want ek het ‘n broetjie dood aan ongeregtigheid, rassisme, seksisme en homofobie, noem dit maar op.
Maar wat as die dam onder die eend uitgeruk word en dieselfde eend op jou kop kom skyt?
Kom ons sit dit in trurat en kyk maar eers mooi waar die ge-wokery vandaan kom.
Gerhard Papenfus, professor in prosesreg aan die Akademia Universiteit, tref die kol as hy sê dat wokeness slegs ‘n geloof is dat ras, geslag of seksuele voorkeur die enigste lens is waardeur ‘n mens na die samelewing kan kyk. Hy voer ook aan dat dit besig is om die Westerse wêreld uit mekaar te skeur.
Maar hoe kan iemand wat opstaan vir geregtigheid, die wêreld verwoes? En dis net hier waar die eend begin skyt
Deur net so ‘n bietjie verder te delf, kan wokeness teruggeneem word na Karl Marx en Marxisme, veral ekonomiese Marxisme. In die 1950’s en 60’s is veral by Franse universiteite ‘n opskudding veroorsaak toe die linkses besef dat kommunisme en ekonomiese Marxisme flop. In plaas van die ekonomie so bietjie boost en oorneem, neem hulle toe kultuur oor – en dit staan bekend as kulturele Marxisme. Hier steek die kritiese rasteorie toe sy hardkoppige kop uit en glo rassisme moet vasgegom word in elke instelling moontlik. Dit beteken dat alles eers verwoes moet word sodat ons mekaar eye to eye kan sien.
Die kritiese rasteorie het begin as ‘n regsteorie by sekere universiteite in Amerika. Volgens hierdie teorie het die Civil Rights bewegings ons nog altyd gefnuik, want eintlik bevoordeel dit net witmense. Vir lank het hierdie net ‘n akademiese teorie gebly, tot iemand een oggend met ‘n seer tand wakker geword het en besluit het dat hierdie nou ‘n beweging moet raak – en nie net meer ‘n teorie nie. En die doel is om soveel moontlik instellings oor te neem.
Dit versprei na die opvoedkunde: die doel van ‘n onderwyser is nou nie meer om kinders op te voed en onderrig nie, nee, eerder om aan hulle uit te wys waar en hoe hulle onderdruk word.
In 2014 begin ‘n swart akademikus, Ibrahim X Kendie, die konsep van antirassisme – maar liggies wil dit deurskemer dat wit die kleur van die verdrukker is. Hy verander die definisie en draai sy mantel na die wind: dis nou nie meer ‘n gevoel of denkwyse van een mens tot ‘n ander nie, maar dat ras altyd diskriminasie plus mag is. As jy nie mag het nie, kan jy nie rassisties wees nie en daarom kan swart nie die kleur van rassisme dra nie, want swart het nie mag nie. Hulle kan wel diskrimineer.
Hoe is dáái vir speel met taal!
(en hier maak ek dit duidelik dat hierdie skryfstuk nie oor wit en swart gaan nie, maar bloot om die agtergrond te skep vir die term “wokeness”)
Maar hoe redeneer hierdie woker-tjies? Hy sê, sy sê. Hy sê dis ‘n mooi park vol blomme en bome, sy sê nee, want dis deur witmense geplant. Soos wat gebeur het in ‘n botaniese tuin in Engeland: die wokers het redeneer dit moet tot niet gemaak word, want al die plante daarin kom van verskillende Britse kolonies (let wel, baie jare gelede!) en herinner aan Britse onderdrukking.
Oh, are we suckers for punishment! Die Weste val vir al hierdie nonsens. Professor Robyn DiAngelo glo whiteness moet afgebreek word. (Ja, die einste pop wat aangekla is vir plagiaatpleging tydens haar doktoraal) Ons moet almal probeer om ‘n bietjie minder wit te wees. Sy skryf tot ‘n boek hieroor en instansies soos Coke en Disney val vir haar teorie.
So, as jy sou voel jy word onderdruk, dan luister ons. Maak nie saak hoe verregaande jou versoek is nie. Die stoel se poot wankel en gaan binnekort onder jou gat uitgeskop word.
Moet jy sleg voel omdat jy ‘n man is? Ja, natuurlik. Omdat ek ‘n vrou is? Ja, natuurlik Ja, ons moet blykbaar almal slegvoel oor dit wat ons is. Dis mos nou beter om vir ons iets ander te kies.
Wanneer is jy n woker? As jy kan sê: kyk hoe word ek onderdruk! Arme ek, die slagoffer! News flash – jou voorgeslagte is ook onderdruk, maar het hulle soos slagoffers opgetree? Nee, hulle het opgestaan en ‘n lewe vir hulself gemaak.
Wokers wil slagoffers van iets wees. As jy nie ‘n slagoffer kan wees as gevolg van jou kleur nie, dan is dit jou geslag, of jou seksuele voorkeur. As jy ‘n slagoffer van al drie kan wees, dan is jy die beste slagoffer!!
Waar teel die wokers aan? Stede is broeineste. Daar is geld en daar is ego. Mense in alledaagse beroepe is nie sommer wokers nie, want hulle werk vir hulle geld. Wokers kla – letterlik oor alles, want hulle het nie ‘n plek in die samelewing nie. Net in sy kla-kring kan hy koning kraai, want daar kan hy sy ellende uitbasuin en ‘n snesie as prysgeld ontvang. Is wokers die mense wat ‘n sopkombuis vir die armes begin? Of agter die kerkbasaar se tafel staan en pannekoek bak? Nee, want hulle bestee te veel tyd aan kla.
Die wokers glo ook vandag dat geslag nie iets is waarmee jy gebore word nie, maar dis iets wat jy kan kies. Dis eintlik onregverdig dat jy met ‘n geslag gebore is. Hemel behoede my! Wat nog!
Hoe deal jy met ‘n woker? Jy staan nie terug nie – jy kan nie altyd vir alles om verskoning vra nie! Jy is wat jy is, en basta! Moet net nie redeneer nie, want wokers glo net hulself. Kom uit daai jammer-dat-ek-leef gevoel en wees wat jy is. Moenie gedwing word om na hulle te luister nie – soos hierdie jaar op die NWU-kampus gebeur het.
Bottom line: elkeen is geregtig op sy siening, maar moenie jóú siening op my afdwing nie. Moet ook nie dinge aanhoor wat teen jou grein indruis nie.
Almal is deesdae liggeraak en op hul tone. Tog so bang iemand word net per ongeluk verontreg. Het iemand dalk iets gesê wat ander kan ontstel? Niemand het die reg om nié ontstel te word nie – feite gee nie om vir jou gevoelens nie. Wees man, nie muis,
Jy het nie die reg om net bloot altyd gemaklik te voel nie – die wêreld mag jou uitdaag. Jy kan nie net opspring en na jou save place hol die oomblik as iemand jou gevoelens seermaak nie.
Wokeness was nog nooit ‘n aktuele teorie nie, maar bloot ‘n stel ideologieë wat outomaties as waar aanvaar is, uit die mond van professor Gravett.
En dit is wat wokeness is – eintlik ‘n pot nonsens as jy my vra. Maar ook tog so gevaarlik.
Just be kind ……. to anyone.
Bronne:
YouTube: Sê dit soos dit is. Willem Gravett
https://www.nationalseedproject.org/key-seed-texts/white-privilege-unpacking-the-invisible-knapsack
https://abcnews.go.com/Politics/woke-conservatives/story?id=93051138
(Om in te teken op Pandora se Dosie, scroll op en opsies sal verskyn. So is jy verseker om haar nooit mis te loop nie. Dit krenk enige vrou se ego as sy geïgnoreer word.)
