(Scroll from top to bottom to subscribe to pandoradosie.wordpress.com)
Sy druk die pakkie Gunston terug in haar jeans se agtersak. Trek ‘n vuurhoudjie, steek haar sigaret aan en asem diep in. ‘n Paar kringetjies rook verskyn in die lug deur haar Musk Lip-ice-lippe.
Dis ’n stil aand. Die meeste treine het al ingekom en lê oor vir die nag. Die stasiepersoneel op nagskof is binne die kantoor besig. ‘n Sekuriteitswag beweeg op en af tussen die treine. Sy los hom uit; dan los hy haar uit. Aandlug en stof speel rondom elke spreilig op die perron. Die stasie raak stiller en sy besef sy gaan vanaand geduldig moet wees. Wag en kyk wat gebeur.
Daar skyn nog ‘n paar ligte in die trein die naaste aan die Ticket Office. Sy stap nader en hoor stemme agter toe vensters. Met sigaret in die een hand en ander hand in haar jeans se agtersak gedruk, begin sy stadig langs die trein beweeg. Sy sien ‘n gesinnetjie by die eerste venster. ‘n Ouerige man en vrou wat regmaak om te gaan slaap in die volgende kompartement. Sy klop aan die laaste venster toe sy ‘n man sien opstaan om iets uit ‘n koffer te haal.
“Ja?” Hy skuif die venster effens af; nie gretig om ‘n gesprek met ‘n vreemdeling aan te knoop nie.
“Haai, Sugar. Nie lus om ‘n pakkie op te tel vir die aand nie?”
“Watse pakkie? Pakkie vir wie?”
“’n Pakkie, man … jy weet. Net vir die aand. Of tot op die volgende stasie. Dan hoef jy mos nie so alleen te wees nie.”
Hy snap nie dadelik nie en kyk verward rond. Skuif dan die venster verder af.
“Hoeveel?” fluister hy met sy kop halfpad deur die venster.
“Honderd tot op De Aar. Tweehonderd tot op Victoria-Wes.”
“Nou okay dan … uhm, ja, okay dan,” en hy beduie met sy kop dat sy moet inklim.
Sy stap tot aan die einde van die trok, maak die treindeur oop en klim in. B7 se deur gaan oop. Die man tree uit tot in die gang, beduie vinnig dat sy moet ingaan en skuif die deur dadelik agter hulle toe.
“Haai Sugar, noem my Sally.”
Sy ken sy soort. ‘n Man oppad na êrens. Dalk ‘n sakereis, dalk terug na sy familie, dalk ‘n ontvlugting na iewers ver. Altyd gereserveerd. Maar sy weet, so belustig soos onkruid om ‘n oop drein en nie moelik om om te praat nie.
Elke stasie koester dinge in sy bors; hou dit naby die hartklop. Dra stories en geheime saam met die treine wat in- en uitbeweeg. Dit is soos sý is. As jy gaan rondsnuffel, sal jy sien daar is tog asem oor. So word sy gebêre, aand vir aand, nag vir nag. In die winter raak dit koud en die staalbankies op die perron kan hard en koud raak.
Dis ‘n rondneukery tussen stasies; heen en weer, heen en weer. Sy weet sy moet net wag, die volgende trein kom altyd in. Sy bly die donker se kind, al neem party haar in vir die nag en vly sy lyf oor haar neer op die smal bankie in die enkelkompartement. Hulle smag na haar ranklyf en sal haar vertroetel tot sy die trein se volgende bestemmingstoet hoor. Tot die toiingrigheid uit hul lywe gehaal is. Soos ‘n halfgebreide trui sal sy hulle klaarmaak, rafels inwerk, voltooi met ‘n laaste steek. Dan pak sy hom weg, los hom daar en stap uit.
Haar wise-ass hart weet: gee jouself soos jy is, want daar is te min tyd om te delf voor die trein tot stilstand ruk. Nag vir nag net gee. Haar pot goud aan die einde van die reënboog wag op die volgende stasie. Sy dra vele stories, slaap vele drome, spoeg die regte woorde. Sy raak hulle kruk vir die nag. Elkeen neem ‘n stukkie van haar saam en soms moet sy skarrel om alles weer bymekaar te hark, anders raak sy te broos vir die lewe. Sy sien die wêreld vanuit ‘n ander se treinvenster.
“Haai, Sugar, wil jy weet hoe diep my put jou emmer kan laat sak?”
Al weet sy die volgende oggend word sy soos ‘n opgefrommelde kardoes die trein uitgeboender. Ek was nie ‘n droom nie, skat, ek was hier. Ek is jou nag se donkerste geheim. Jou pavement special wat jy vroeër vanaand opgetel het. Ek het jou nag kort gemaak, my enegielyn binne jou geplant.
“Haai, Sugar. Jy kan enige tyd jou bal deur my hoepel kom gooi. Net tot op die volgende stasie.”
(Om in te teken op Pandora se Dosie, scroll op en opsies sal verskyn. So is jy verseker om haar nooit mis te loop nie. Dit krenk enige vrou se ego as sy geïgnoreer word.)

One response to “Rondneuk tussen Stasies”
As kind het ons trein gery, tussen die stasies in die storie. Soos pandora se dosie, het die storie ‘n wereld opgemaak wat ek heeltemal onbewus was van, al het ek self gereeld by die stasies gestop.
LikeLike