Cosmo-girl; toe nie

Moenie jou laat sidetrack deur die lewe nie, lees ek anderdag. Nou hoe ‘n mens dít moet regkry, weet ek nie. Ek weet net ek soek nog daai boek wat my nié na chicken shit laat voel nie. Dis nie te sê dat al die poli-onversadigde boodskappies die hart en die lyf gaan beskerm nie.

Ek soek daardie boek wat sê éét daai vet biltong, wyn is die antwoord op alles, son is fantasties vir jou vel en rook is al werkwoord wat die longe kan voed.

Die meeste selfhelpboeke en vrouetydskrifte kristalliseer my drome na droefheid en laat my soos ‘n klein knoet voel op soek na mooier seisoene anderkant die see. Gedrukte woorde in glanstydskrifte, en modes vir dié wat so dun soos ‘n kermispamflet teen ‘n lamppaal lyk, is juis die dinge wat my soms laer as slakslym laat voel – dan skop die besef in dat die begeerte om ‘n Comso-girl te wees, maar ‘n gebedjie in dryfsand is.

Ek hét al probeer – meer as een keer. Dan doen ek presies wat die boeke sê: Staan soggens ‘n uur vroeër op sodat jy:

Ek kom agter ek kry ‘n rukking aan my nerwe as ek artikels raaklees van hoe om te budget, hoe om die perfekte kind groot te maak wat sy bord uitkrap en boonop die waterbottel volmaak. Hoe om jou baas te beïndruk sonder om te flirt en hoe om jou klerekas te beplan volgens die seisoen – daar hoor ek ek is ‘n wintermeisie wat net 9 giggelgeel kledingstukke nodig het om 278 uitrustings te skep. Wat my laat voel het soos Lady Gaga na ‘n week sonder ordentlike stoelgang.

Of die beradingsartikels wat stelselmatig sorg vir breinspoeling na die perfekte huwelik. Ja, ek sal net Margarine (uitgespreek met ‘n Russiese “ggggg”) op ons en ons kinders se volgraanbroodjies smeer, ek sal my hare gereeld laat highlight, ek sal elke dag sorg vir voedsame gebalanseerde etes vir my famielietjie, ek sal my lyfie hou soos die dag wat jy my ontmoet het en sal onteenseglik veg om die veelvuldige orgasmes te behou tot ek nie eers meer my eie naam kan onthou nie. Ek sal slim en geleerd optree teenoor jou kollegas en elke dag met ‘n heuningglimlag by die voordeur inloop.  Ek sal nie ongewensde hare op gewensde plekke laat groei nie. Ek sal die hond se kop vryf en nie konyne kook soos in Fatal Attraction nie. Mmmm…

Of jy Florence Nightingale, hoofmeisie by MENSA of voorsitster van die biduurgroepie is en lekker melktert kan bak, niemand gaan daai goue letters op jou graf skryf nie.

Plak maar die “Save the Rhino”- en “Eat Plants not Pills” bumper stickers op jou kar, die bliksem op sy selfoon gaan nog steeds in jou gat kom vasry.

Dan gooi jy alles oorboord en laat druk jou eie hempie met die woorde “I’m a puzzle” wat oor jou nie-ingeplante boesem pryk. Jy begin skelm na Treffers vir Tannies luister. Jy verruil Cosmo Men vir koffietafelboeke vol kuns (lees: standbeelde van mans met potsierlike klein geslagsdele). Jy foeter wit, swart en pienk alles gelyk in die wasmasjien en verbaas jouself dat pantyhose meer bene as ‘n seekat kan hê as dit om die bondel gekoek raak en jou na niertjies-in-netvet laat verlang.

Ten laaste staan jy totaal en al verstom oor die mensdom wat so vinnig beweeg, want jy probeer nog steeds verstaan hoekom Gert die regte antwoord op skool kon gee: as 8 mense en 4 perskes in ‘n trein ry teen 131 km/h ooswaarts, hoe laat kom die son in Japan op?

Leave a comment