Hoekom vrouens (soms) krapperig raak

(Scroll from top to bottom to subscribe to pandoradosie.wordpress.com)

Op ‘n ouderdom van tien jaar begin dinge binne-in jou klere beweeg – pragtige roosknoppies begin teen jou bloes druk, maar gou besef jy dat dit meer doring as blom is. Enige ding wat binne ‘n afstand van twee sentimeter aan jou blom kom, word sagtens weggedruk, weggewens of weggevloek. Hiermee saam kom slaan die bra-oorlog jou in die gesig. Wie sal dan ooit die klapgeluid agter jou rug vergeet wanneer die seuns uitgevind het waar jou roosknop se panserkleed bymekaarkom. En moenie eers praat van die dag wat jou roosknoppe beweging op die atletiekveld ontdek het en jy die kontrêpsie met die dik bande en baie knippies moes dra nie.

Was die roosknoppe maar al!

Toe begin ouma op die appelwa kom kuier. En sy bring nie hierdie keer lekkers en kleingeld saam nie. Krampe, rugpyn, maagpyn en erge moordgedagtes het sy in haar vanity case gepak. Die lugmatras tussen jou bene wil jou ruimte toe stuur en die prop wat veronderstel is om alles makliker te maak, voel soos ‘n boormasjien wat water soek. Jou skooltas, handsak, sportsak en skoolbaadjie is volgepak vir daai dae wat die vloed skelm oor die berg begin loop.

Jy dink jy het alles onder beheer, dan bekruip die hormone jou.  Wat ‘n antiklimaks was die eerste keer nie! So vinnig van val uit die sewende hemel tot by die poorte van die hel binne een minuut kon jy jou nooit voorstel nie. Nie net het dit gevoel asof jou moemf in breuke verdeel word nie, maar jy is ook amper seker dat jou linkereierstok agter jou strot sit en die regter een in die niet verdwyn het. Om nie eers te praat van jou uterus wat soos ‘n Slamse koeksister ge-twist is nie. Jy het nie eers opgelet dat meneer Macho sy wa voor die kar gespan het en nou met ‘n kol op die broek huis toe moet gaan nie.

Moederskap het ook nadergekruip en jy sal jouself tot die dag van jou dood vra: was ek gereed daarvoor? Was die droë Mariebeskuitjies en water die moeite werd op daardie dae wat jy gatvol oor die toilet gehang het? Sal sjirurgie kan opmaak vir die rekmerke, plooie en los lelle op jou maag? Maar ons is net absoluut fantastiese wesens en het die toets deurstaan. Die engeltjie het binne jou gegroei, maak nie saak hoe jy van binne geskop en gehamer is nie.

Die eens plat magie maak plek vir ‘n bol deeg wat in wonderlike vormpies gedruk kan word. Hard lag en nies voel soos baddag op Holoog (Hol-oog) en jy hol vir ‘n droë pantie. Die groot dag breek aan en jy is die wenner van ‘n plas in die middel van die mall. Twee krampe verder en jy sit in jou groen jassie binne in die hospitaal. Druk en stoot en manlief wat sag fluister: “Alles reg, my lief, dis nou-nou verby, maar kan jy nie net bietjie sagter gil nie?” En die nurse wat jou aanpor tot nog n stoot, net ‘n ou laaste enetjie. Manlief en die dokter beland onmiddellik op jou killing to do-lysie omdat hulle jou forseer om ‘n 5kg waatlemoen deur ‘n sleutelgat te druk.

Maar jy kon en jy het en nou moet jy daai waatlemoen groot kry. Gou besef jy dat die engeltjie wat binne jou was, kan skree, gil, huil, doeke natmaak en forceful poo-masjiene is. Net as jy dink jy is op dit, dan slaan hul tienerjare jou soos ‘n nat koerant vol in die gesig. Dis ook net in die tyd wat jy in jou veertigs is en jou sexual peek bereik het, maar manlief reeds syne met sy agtiende verjaarsdag gehad het. Wat meebring dat jou peek nou ‘n platorand is wat vinnig afstuur na warmgloede,  woedebuie en ‘n dorheid wat voel soos ou krummels in ‘n broodblik.

Snaakse goed begin binne daai einste roosknoppies van jou groei, of selfs daar waar die appelkar eens moles gemaak het. Ook hier kom jy deur.

Nou vra jy my hoekom vrouens (soms) krapperig raak? Dit terwyl mans dit relatief maklik het – hulle het nie verniet die kersie op die koek ontvang die dag toe daar besluit is mans kan staan en piepie nie! Droë sokkies en al.

En julle dink die vrouens is die weaker sex?

(Om in te teken op Panodora se Dosie, scroll op en opsies sal verskyn. So is jy verseker om haar nooit mis te loop nie. Dit krenk enige vrou se ego as sy geïgnoreer word.)

Leave a comment