Ou bokke vreet mos jong blare

(Om in te teken op Panodora se Dosie, scroll op en opsies sal verskyn. So is jy verseker om haar nooit mis te loop nie. Dit krenk enige vrou se ego as sy geïgnoreer word.)

Leonardo kry net nie die oudword-ding onder die knie nie. Op 49 sit sy kêppies nog agterstevoor op sy kop en pêrel die sweet op sy voorkop soos hy dit uitkap by die rave parties. Nie die hartsogtelike, tragiese held wat vir Kate Winslet om die lyf beetgekry het waar sy in ‘n kruisposisie oor die Titanic-hoekie gehang het nie.

Nee, DiCaprio is Jack Dawsen is nie meer. Eerder ‘n Don Juan wat nog suigstokkies in die speelpark uitdeel. Hoe hard die man ook al probeer, hy kom net nie by daardie vyf-en-twintig jaar merk verby nie. Toe ek die artikel begin skryf het, was die negentienjarige Eden Polani aan sy sy. Toe ek die artikel klaargeskryf het, was die vyf-en-twintigjarige Vittoria Ceretti aan sy sy. Nou my calculator sê vir my 48-25=24. Dis nogal ‘n verskil, nè. Maar hy’s slim. Hy weet die jong poppies is nog lig op die Botox en vullers. Hy kan nog spaar.

Op die ouderdom van 49 stap meneer DiCaprio ook nader aan die middeljare en sou ‘n mens dalk hierdie kinderparkaktiwiteite van hom daaraan kon toeskryf. Maar nee, in sý geval het dit niks met midlife crisis te doen nie. Hy like maar bloot net die groen blare. Good for him, sal baie sê. Nou wie is ek om onse Leo so uit te haal. As jou puberteitshormone nog nie uitgewoed is nie, forget the bread, give them cake.

Ek spot nou, maar ek sal graag ‘n vlieg teen sulkes se mure wil wees. Ek weet dit klink seksueel pervers, maar dis nie waaroor dit gaan nie, nee. Ek voel vere vir hul laken-ekskapades. Ek wonder maar net waaroor sal ‘n man van 49 en ‘n pop van 25 of jonger elke aand met mekaar sit en gesels. TikTok, jongste modes, nuutste iPhone op die mark? Dis nou die aande wat hulle nie op die rooi tapyt is of dit iewers uitpomp by ‘n party nie.

Sal sy hom nie ook so kyk en dink soos N.P. van Wyk Louw nie: “En as jy oud is, sal jy ook só wees – flou oë, gerimpeld, geel en grys? Sonder begeerte – om dorre bene, dorre vel en vleis.” Siestog shame. Nie dat die pop ‘n cooking clue sou hê wie N.P. van Wyk Louw was nie.

Kinders is daar nie, so daar is niks van “sussie se kosblik kort regtig ‘n paar slaaiblare” nie. Of “die maatjie onder in die straat het gevra of John-John die naweek kan kom vir ‘n sleep over” nie. Ek weet ook nie wat die poplap se cooking skills is nie. Two minute noodles?

Dis soos die komediant, George Burns, sê: Jong vrouens hou hom jonk. (En dis nou nie dat hierdie man ‘n prentjie van ‘n skoenlapper op ‘n pienk roos is nie, hoor.) Jy kan nie die ouderdom keer nie, maar jy hoef nie oud te raak nie. Net so, George!

Maar sommige slimmes sê wend jou tot die jonges – hulle weet alles. Van die lewe? Ek weet darem nie. Alles van niks, sou ek sê.

Leave a comment