(Scroll from top to bottom to subscribe to pandoradosie.wordpress.com)
“Wij konden niet altoos lopen aan de leiband van Engeland” – J.H. Hofmeyer, 20 Julie 1879
In 1902 vertrek 322 boere met sterre in hul oë met die Highland Fling uit Suid-Afrika oor die Atlantiese Oseaan. Argentinië het ná die Tweede Wêreldoorlog mense gesoek om die ylbevolkte dele van die Chebut provinsie te ontwikkel en die Suid-Afrikaners het ‘n nuwe lewe gesoek tydens die Anglo-Boereoorlog. Hulle was moeg vir Britse onderdrukking en met hul kennis van skaap-en wolboerdery, was hierdie die perfekte uitkoms. Patagonië was hul toekoms.
Hierdie is ‘n woestynstreek en die Afrikaanse boere het platsak daar aangeland. Op die oog af nie die gewensde kombinasie nie, maar die boere het gewys wat in hul steek en die taak met moed aangepak.
625 hektaar is gratis aan elkeen gegee, maar hulle moes binne 5 jaar nog 1875 ha elk bykoop, asook ‘n eenvertrekgebou oprig, 10ha verbou en 400 skaap of bok, of 80 bees, aanhou. Hulle moes ook ‘n eed van getrouheid aan Argentinië aflê. Die volgende boere wat aangeland het, moes egter hul grond self koop.
Die winters was onhoudbaar met swaar sneeustorms. Daar was nie paaie, hawens en brûe nie. Hulle moes alles self doen, want daar was nie plaaswerkers beskikbaar nie. Slegs ‘n handjievol plaaswerkers het van Suid-Afrika af saamgereis. Die erge sneeustorms van 1925 het feitlik hul skaapboerderye uitgewis. In 1938 het baie Suid-Afrikaners teruggekeer na Suid-Afrika. Hulle was moeg om grond te huur, want almal kon nie koop nie. Die wolpryse het geval, hulle het te veel kostes aangegaan en baie was nog steeds verarm.
Daar was geen Afrikaanse kerke en skole nie. Verskeie NG predikante het van Suid-Afrika gereis om tydelik te help. Ouers moes hul kinders na Spaanse skole stuur. Hierdie skole was duur en ver, dus het baie besluit om hul kinders op die plase te hou en dit het veroorsaak dat baie kinders ongeletterd was. Kerke was alles Rooms-Katoliek en die staat wou nie Protestanse kerke vir hulle bou nie.
Van die boere het besluit om hul eie Afrikaanse skole op die plase op te rig, maar met net die basiese lees en skryf. Die Spaanse kultuur het al hoe meer oorgeneem. Die Suid-Afrikaners het met Spanjaarde begin trou en die gemeenskap raak al hoe meer tweetalig. Vandag is dit oorheersend Spaans met net ‘n handjievol ouer mense wat nog Afrikaans praat.
Met die jare was daar ‘n verval in die Afrikaanse kultuur en taal, maar van die ouer mense het hard probeer om dit te red. Daar word nog tradionele byeenkomste gehou met volkspele en boerekos. Kinders word nog Sarie Marais en Suikerbossie geleer. Vandag is daar nog vanne soos Botha, Grimbeek, Henning, Venter en Visser. Die Patagonies-Afrikaanse dialek is in 1925 deur Suid-Afrika as ‘n offisiële taal erken.
Met ondersoeke in 1980 is daar gevind dat baie van die Suid-Afrikaanse karakter verlore gegaan het, maar in die laaste 20 jaar is baie gedoen om dit weer te laat leef. ‘n Kultuursentrum en museum is opgerig en die afgeleefde tradisies kry nuwe asem. Navorserspanne het bevind dat die Afrikaans wat nog daar gepraat word, uit verouderde uitspraak en sintaksis bestaan. So word daar nog van ‘n vliegtuigstasie gepraat as ‘n lughawe. Kjind, i.p.v kind. Deesdae word daar gereeld Afrikaanse onderwysers gesoek vir aanlynkursusse.
Rebecka van Patagonië wat net tot op 10 jaar Afrikaans gepraat het, is deur navorsers genooi om ‘n gesprek met twee van haar niggies in Afrikaans te voer. Haar dogter, Tecky, vertel hoe haar ma se hele houding verander het toe sy haar taal praat. Sy het geglimlag en beduie en te lekker gelag. Dit was ‘n gelaaide oomblik vol trane. Tecky vertel aan die navorsers: “ Ustedes no saben lo que han hecho por mi madre. Le han insuflado vida” – julle weet nie wat julle vir my ma gedoen het nie; julle het lewe in haar geblaas.
Een keer ‘n Afrikaner, altyd ‘n Afrikaner.
https://qs.com/africa/1522565/a-unique-afrikaans-dilect-is-making-a-comeback-in-patagonia
(Om in te teken op Panodora se Dosie, blaai van bo na onder. Subscribe-opsies sal verskyn. So is jy verseker om haar nooit mis te loop nie. Dit krenk enige vrou se ego as sy geïgnoreer word.)

One response to “Afrikaners in Patagonië”
wow!! 36Die LSD in my are
LikeLike