Kry jou leë nes jou onder?

Artikel : Finale werkstuk vir Joernalistieke kursus

(Om in te teken op Panodora se Dosie, scroll op en opsies sal verskyn. So is jy verseker om haar nooit mis te loop nie. Dit krenk enige vrou se ego as sy geïgnoreer word.)

Jy luister haar stemboodskappe oor en oor. Staar na sy ou rugbyvideo’s. Die mure druk. Stiltes eggo kliphard. Herken jy jouself? Jy mag dalk ’n ma met LNS wees.

 “Sy laaste vuil klere mag nie gewas word nie; ek wil hom ruik. Soms bestorm ek sy kamer en staan verwese rond.”

Klink Lisa* bekend? Ook Riette* vertel hoe sy deurnag movie soos ’n tiener –  mét pop corn! “Want dit was ons ding om saam te doen.”

As jou hart stukkend is en jy sommer uit die niet grens, jy opgeskeep en leeg voel, ly jy dalk aan leënessindroom (LNS). Dit kom sit soos ‘n apie op jou skouer en afklim wil dit nie.

Grappenderwys is jy die mal ma wat nie jou eende in ’n ry kan kry nie. Jy moet nou uit hierdie swakkelingskispak klim, maar niemand kan jou voorberei op die dag wanneer jou kind die huis verlaat nie.

Speelparke vol emosionele wipplanke word oopgesluit en jý’s die een wat met stukkende knieë moet opstaan en aangaan.

Hoekom word LNS as ’n sindroom beskou?

Die wurmblik is oop! Vrywilligers het ’n vraelys oor die onderwerp ingevul en die ma’s wil práát. 93% glo hierdie is nie bogpraatjies nie, maar ’n toestand wat herken, erken en hanteer moet word. 87% vermoed hulle ly wel aan LNS.

Alhoewel dit nie ’n kliniese afwyking is nie, veroorsaak dit groot ongemak. Die feit dat dit as ’n sindroom beskou word, dui juis daarop dat dit nie onder die mat ingevee kan word nie. Inderdaad steek ’n reeks simptome kop uit wat later soos ’n “siekte” sonder enige medikasie voel.

SOEP-navorsing* bevind dat alhoewel geen mediese diagnose daaraan gekoppel kan word nie, hierdie aspek van die ouerskapsiklus tog die fokus van mediese en sosiologiese studies geword het.

Nogtans word die mal-ma-etiket om die nek gehang. Oppervlakkig beskou, is dit mos melodrama: ’n ma wat oorreageer en onstabiel toneelspeel. Maar die gevoel van verlies en eensaamheid gebeur wel die dag as jou kind die huis uitstap. Die skielike lamheid kan jou irrasioneel laat optree.

Derhalwe rek ons nou die veld bietjie wyer: Leë neste skop nie in slegs die dag as al die kuikens gevlieg het nie. Nee, dit begin reeds wanneer jou eerste kind sy vlerke sprei. Al het jy nog kuikens onder die dak, die huisverlater se plek is leeg –  niemand of niks kan dit vul nie.

Hiervolgens vertel dr. Herman Raath, kliniese sielkundige van Otjiwarongo, Namibië, dat gesinslede mekaar beïnvloed. Op ’n stadium word ’n ekwilibrium bereik waar elkeen sy rol vertolk. “Sodra ’n lid die huis verlaat, word hierdie balans versteur en gedragsveranderinge tree in. Almal skarrel om die balans te herstel en simptome steek kop uit. As die ma depressief raak, is dit nie iets wat bínne haar is nie, dit is slegs die implikasie van die kind wat weg is.”

Veranderinge kruip in sonder dat jy daarvoor gevra het

Minder stemme aan tafel en om die vuur. Selfs die opgemaakte beddens en netjiese kamers irriteer jou.

Jy trek hul deure toe – dit lyk vreemd daarbinne. Gestoeiery en stryery is weg en jy mis daardie orkaan in jou huis. Geen toeloop van maats meer nie. Kosmaak word afgeskeep. Wasgoedmandjies raak afskuwelik leeg en die yskas adverteer hongersnood.

Geen “mamma” uit die kamers. Saam koffiedrink in die bed of laataandtee op die stoep is verby.

Telefoonrekeninge klim. Sente word omgedraai en die goedkoopste gesigroom op die rak móét werk – universiteite vra hul pond!

Vriendekringe krimp en jou sosiale lewe droog op. Geen huiswerk, skooltake en skoolkar meer nie. Skool- en sportaktiwiteite verdwyn. Saans na werk soek jy iets om jou mee besig te hou.

Simptome steek skielik hardnekkig kop uit

“Ek besef nou hoe swak my selfbeeld is. Die kinders was altyd deel van die geselskap, nou sit ek met my mond vol tande,” sê Helmi*.

Want jou rol as ouer het ’n sekere identiteit bepaal en jou waarde is daarvolgens gemeet. Die Better Health-webkanaal skryf dat wanneer die kind uitstap, daardie rol verdwyn.

Maar dit is nie al nie. ’n See van emosies spoel nader:

Die juk knel vir sommige swaarder as vir ander

Alle ma’s ervaar LNS darem nie dieselfde nie. Party pak die bul by die horings en swem uit. Ander sink. Indien jou lewe net om jou kinders gedraai het, mag jy dalk op die bodem bly lê. Beroep, stokperdjies en sport is op ys gesit – wat nie noodwendig verkeerd was nie.

Dalk was jou eie proses van onafhanklikheid traumaties wat nou oordrewe bekommernis oor die welstand van jou kind veroorsaak. Moontlik is jy iemand wat bloot verandering moeilik ervaar en hierdie huisverlater het jou nou onder die bus gegooi.

Jou man het ’n vreemdeling geraak. Julle is nou alleen soos vóór die kinders –  en nie dieselfde mense as wat julle tóé was nie. Interessant genoeg skryf professor Jane Meyers van die Universiteit van Florida dat volgens ’n studie wat hulle gedoen het, baie vrouens juis nóú meer intimiteit ervaar.

Daar is lig aan die einde van die tonnel

Dr. Raath glo dat LNS nie voorkom kan word nie; dis ’n gegewe. Daar is wel maniere om dit te hanteer. Hy praat van die chaosteorie: “Enige ekwilibrium neig tot chaos. Maar dit kan omgeswaai  en hanteer word. Slegs wanneer jy tot aanvaarding beweeg, kan daar vooruitgang en groei wees. Anders stagneer jy.” Die ma moet verstaan wat besig is om met haar te gebeur. Sy moet insig kry oor dit wat kom en so nuwe waarde vir haarself vind.

Ook professor Meyers glo hoe gouer die ma ’n nuwe doel vind, hoe vinniger kan die simptome verdwyn en dat die leë nes nie die probleem is nie, maar die leë vrou. Sorg vir jouself vóór die nes leeg raak, passop vir afskeep en bly so ver moontlik aktief.  Hê pret – jy het nou tyd op hande! Doen wat jy nog altyd wou en gee aandag aan jou man.

Moenie opkrop nie – praat, gil, skree en vloek. Slaan die kussing en smyt die bord op die grond. Jy is nie pateties nie, jy is net ’n ma. Jy het gedoen wat jy kon – vertrou jou kind, die lewe is nou in sý hande. As die band met hulle sterk is, sal hy onthou waar jou oor en jou bors is.

Gelukkig verdwyn die simptome later, maar as die rooi liggies bly flikker, moet jy hulp van ’n deskundige kry.

Ma’s wat al hierdeur is, cope op verskillende maniere. Dalk slaap die hond nou in die huis of jy kry troos deur jou huil voor die spieël uit te pers. Elkeen probeer. Die een luister Spoegwolf op repeat, die ander een praat kliphard met haar kind asof hy daar is. Jy was ’n superma en jou kind gaan dit nooit vergeet nie. Die grafie om sy wortels uit te grawe, lê net agter sy bakkie se sitplek.

*skuilname

Ander bronne:

Empty Nest Syndrome. 2012. betterhealth.vic.gov.au/health/healthyliving/empty-nest-syndrome. Date of access: 1 June 2012

*Piper, A. & Jackson, I. 2017. She’s leaving home: a large sample investigation of the empty nest syndrome. SOEP-papers on Multidisciplinary Panel Data Research. 1-29.

Raup, J.L. & Myers, J.E, 1989. The Empty Nest syndrome: Myth or Reality? Journal of Counseling and Development, 68(2):180-183

Leave a comment