(geneem uit ‘n beredenerende mondeling wat ek so ‘n jaar gelede vir ‘n graad 12-leerling geskryf het.)
Verbeel jou jy suig dieselfde soort stokkielekker vir die res van die jaar. Jy is al so lus vir die rooies wat soos kersies proe, maar nee, jy het begin met hierdie geles wat soos pynappel proe en nou sit jy daarmee.
En dit is presies hoe ek voel oor vaste verhoudinge op skool. Jou pynappel loop elke middag saam met jou huis toe. Jou pynappel sit Vrydagaand langs jou in die fliek, Saterdag langs jou by die sport en Maandag weer langs jou in die klas.
Wat is lekkerder om saam met jou vriendinne op te krul tydens movie nights? Om pouses te sit en gesels sonder om om te gee dat jy ‘n spektakel van jouself gaan maak deur dit wat jy sê. As Pynappel daar was, sou jy jou woorde twee keer moes omdraai en mooi dink voordat jy jou normale lawwe goed kwytraak. Ek is nie ‘n pessimis nie, net versigtig.
Met my eerste punt wil ek dit duidelik maak dat ons nou besig is met die instaptreë tot adolossensie en daarom voel ek dat ons te jong is om nou al in ‘n vaste verhouding te wees.
Tydens ‘n honneurstesis van Stoken-Braun van die Noordwes Universiteit, het drie punte sterk na vore gekom uit onderhoude met skoolmeisies:
Hulle voel hulle is te jonk, te onvolwasse en het te min lewenservaring om in ernstige vaste verhoudings te wees.
Ons sukkel elke dag om uit te vind wie ons is, waar ons inpas en wat die wêreld van ons wil hê. Ons weet nog nie eers hoe lyk ‘n verhouding nie, maar nou wil ons pens en pootjies inklim. Ek sê weer, ek is nie ‘n pessimis nie, net versigtig.
Kaktusse is aangepas om wind en weer te deurstaan. Kamele is aangepas om water in droë tye in hul boggels te dra. Katte is aangepas om in die nag te sien. Ek is nie nie ‘n kaktus, kameel of kat nie. Wat ek hiermee bedoel, en dit bring my by my tweede punt: ek is nie nóú gebou vir sad stories nie. My draadwerk kan nog nie hartseer en teleurstelling verwerk nie. En dit is tog maar die uiteinde van 80% van alle verhoudinge.
N.P. van Wyk Louw skryf nie verniet dat die hart wildekos, maar ook bitterkos is nie. ‘n Mislukte verhouding gaan jou teruggooi tot enkelloperstatus.
Uit die navoring van Andrea von Wieting van die Universiteit van Stellenbosch met hoërskoolleerders, blyk dit dat hulle te maklik glo hulle is gereed vir ‘n erstige verhouding, maar nog nie die emosionele volwassenheid het om die mislúkte verhouding te hanteer nie. Sy verwys ook na die hoë selfdoodsyfer onder tieners as gevolg hiervan.
Ek voel ons moet wag tot jou persoonlikheid stabiel is sodat jy die regte besluite kan neem, reg kan oordeel en die stampe en stote kan vat wat na jou kant toe kom – en glo my, dit gaan kom! Moenie met iemand se hart rondspeel nie – as jy iemand net wil gebruik, gaan koop vir jou ‘n stresbal en druk dít eerder as jy dan nou iets wíl druk!
Inez Saunders van die Universiteit van Unisa skryf dat om in ‘n verhoudig te wees, plaas jou gedurig in die versoeking, en dit bring my by my derde en laaste punt: tieners ondergaan hormonale en sosiale druk. Emosies begin ontwikkel en ons begin aangetrokke tot ander voel.
Ek stem heelhartig met Saunders saam. Ek voel ons is te jonk om hierdie emosies heeltemal te verstaan. As ek nog nie eers my eie lyf verstaan nie, hoe gaan ek Pynappel se ewige liefde wat hy aan my verklaar, verstaan? As ek nog nie eers weet wat in my eie lyf aangaan nie, hoe gaan ek die seksuele lyftaal kleinkry? Hoe bring ek hormone, emosies en liefde bymekaar?
As jy muurbal speel sonder ‘n muur, waar gaan jou bal beland? As jy vas in een verhouding is, waarteen bons jou bal? Teen watter muur gaan jy die res van jou verhoudings vergelyk as jy gewoond was aan net een? Hoe wil jy jou lewe ná skool ingaan met ou Pynappel nog steeds aan jou sy? Sorg dat jou bal baie bonsplek het sodat jy jou besluite reg kan neem. En buitendien, daar is soveel oulike ouens en meisies daar buite, wie moet ek kies?
Ek sluit af met die woorde van Oprah Winfry: Jy gaan baie mense kry wat saam met jou in die limousine wil klim, maar jy het iemand nodig wat die bus saam met jou wil ry. En as ek reg onthou, sê my ouma se resepteboek: Kook en Geniet!
