Om seuns groot te maak

Om seuns groot te maak, is nie net van hare op die tande hê nie. Dis sweet op die bolip, hartkloppings en ‘n woordeskat wat die hele buurt na hul paspoorte laat gryp. ‘n Ekstra doekie in jou handsak wat jy oor jou kop kan gooi van skaamte (jy mag dit colour code met jou dag se uitrusting) en ‘n ekstra ticket to heaven, want Liewe Jesus verstaan.

  Net om elke dag iewers uit te kom, is ‘n sirkus op sy eie. Die motor se voorste sitplek het een of ander magnitisme wat al klaar veroorsaak dat my hitte oopgedraai word. My foon se Bloutand word onmiddellik ontkoppel, want Ma se musiek werk net nie vandag vir ons nie. So beweeg ons na elders met klanke in my ore wat my kort-kort laat wonder of daar nie iets fout met die kar is nie. Ma het blykbaar geen musieksmaak nie – sal hulle mos sê van ‘n girl wat uit die eighties kom!! Dis hip hop op die toilet, hip hop in die stort, hip hop voor die lessenaar, hip hop in die kar, maar toe daar nou die dag ge-hip hop word in my bed, het hulle nie ge-hip nie, maar ge-hop by die kamer uit!

  “Hou op so gil, jou meisiekind!” Senior vir Junior.

  “Ma, boetie leer nie!” klik Junior.

  “Ma-a-a-a!”

Ka-dwa! val ‘n ding. Deur klap toe. Ka-dwa! nog ‘n ding teen die deur.

  “Jou drol!” Stilte

  My gebrek aan geduld bereik ‘n klimaks met ‘n voltage van ‘n internasionale kortsluiting. 1-2-3 tot by 10 in my binneste help nie meer nie (het dit al ooit!). Die versoeking om reguit yskas toe te loop en myself te gaan verdrink in die bottel Amurula, kom en gaan oor my. Die versoeking om ‘n galg op te rig aan die Johannes Broodboom in my tuin, kom en gaan gelukkig ook.

  Ek stap die huis in. O jitte, maar ek’s kalm. Maak Senior se kamer oop en reg om my sê te sê. Daar sit hulle altwee op die bed – vroom en doodstil: die een met sy selfoon en die ander een met my selfoon.

  “Was dit nou nodig! Die hele buurt kan julle hoor!”

  Daar’s uitdrukkings op daai gesigte wat ‘n droogte kan veroorsaak as jy hulle nou in die veld loslaat.

  “Is Ma okay?” Senior.

  “Ons sit dan nog die heeltyd maar net hier.” Junior.

Huiswerk word gedoen met die hele skoolsillabus op die lessenaar. Plus eergister se leë smartiedoos, gisteraand se leë Coke-bottel, Doom-blik, onderarmsprei, een tekkie, ‘n bottel Arnica sprei en sy broer se Engelse leesboek wat ons nou al twee weke soek. Junior aan die ander kant, se lessenaar lyk so effens beter. Alles mooi reggepak. Maar lig nou die duvet op!  

Die badkamer is ‘n stille oseaan as hulle klaar gestort het. Nat handdoeke moet blykbaar net op een deel van die reling gebondel word. Waslappe word nie uitgedroog nie, in ‘n bondeltjie gelos en ruik môreoggend soos ou bloukaas. Skeerroom maak polkadots teen die spieël en tandeborsels verstik hulself in eergister en die week tevore se tandepaste.

  Waar ruk ek nie nou die ander dag amper my kar van die pad af nie! Sal Junior nou nie hier uit die bloute vir my vra wanneer het Ma vir die eerste keer gesoen nie!! My koots! Dis hier waar ‘n mens blitsvinnig op jou voete moet dink.  Ek kan nie onthou nie, besef ek met ‘n skok.

  “Hoe soen?”

  “Nie tannie-soene nie, Ma.”

  “O. Dáái’s. Jissie, my kind, vra jy my nou vas!”

  Ek kan net onthou dat ek op die ou end vir hom gesê het, wat jy ook al doen, los jou hande uit! Soen dat die sop spat, maar los jou hande uit! Druk teen die muur vas, hang aan die takke, gryp die kosyn vas, maar los jou hande uit!

  “Maar dit gaan mos nie cool lyk nie, Ma”

  “Dit gaan nie nou hier oor cool of nie cool nie. Julle op julle ouderdom kan in sulke situasies erger as onkruid om ‘n oop drein wees. Dis hoekom ek sê, gebruik al jou sintuie, maar vergeet van vat en voel.”

  Dis rugby, dis gimnastiek, dis atletiek, dis krieket, en natuurlik het die hormone ingeskop, so dis deesdae ook gim….voor die gim se spieël. Benchpress en shoulder press tot die are op die hele lyf bult.

  “Ma moenie kla nie! As ons heeldag op ons beddens gelê en games speel het, sou ek graag Ma se gekerm wou hoor.” Senior.

  “Ja, Ma. Sê haar, Boetie.” Junior.

  En hierdie ma weet hulle is reg, want as daar nou iets is wat hierdie ma nie kan verduur nie, is dit rekenaarspeletjies, of  Xbox, of so iets, of Play Station. So nou ry ma haar half besimpeld en hou haar slim langs elke wedstryd. Ek het erg sukkel met die krieket. Verstaan net mooi niks en kan nie verstaan dat enige mens so lank kan staan en bid dat daar ‘n bal na sy kant toe moet kom nie.

  Enige seuntjie-mamma behoort direk na boetatjie se geboorte ‘n noodhulpkursus te volg en ten minste elke twee jaar opvolg, want glo my, seuns dink beserings uit wat ‘n goeie paramedikus nog moet van leer. Soos byvoorbeeld: maak ’n vishoek (daai soort waarmee ‘n mens walrusse vang) aan ‘n stok vas, klim op die motorfiets en speel jy is Spartacus in die voorste linies. Dan haak jy jou broer se vinger sodat dit jare later nog steeds krom staan. Of jy gryp eenvoudig net ‘n hamer en slaan hom voor die kop. Of wat van ek gryp my pyl en boog (gelukkig die speelsoort) mik na my broer en skiet hom ‘n honderste van ‘n millimeter van sy oog af. Net so, nê!

  Dis ‘n absolute Babal se verwarring as dit by onderbroeke en sokkies kom. Ja, ek weet hulle is verskillende ouderdomme wat beteken verskillende groottes. Ja, ek weet ek moet hulle merk, met ander woorde hul name met ‘n permanente merker opskryf  en glo vir my, ek doen dit. Name en nommers. Sokkie nr. 1 pas by ander sokkie nommer 1. Ek het ‘n merker in my handsak, merker in die kombuislaai, merker langs my bed. Ek merk! Maar nog steeds daag daar net een sokkie nommer 1 by die wasmasjien op. Of Senior se sokkie nommer 4 se maatjie is aan Junior se voet. Om nie eers te praat van onderbroeke nie! Junior het een gunsteling onderbroek en sal dit wragtig elke aand was net om nie die ander aan te trek nie.

  Oggendpiepies word nie in ‘n toilet gedoen nie. Nee. Die palmboom by die voordeur. Blykbaar iets te doen met die oggendluggie op die privates.

  En as die pa bykom, is die ball(s)game net groter. Soveel van saamstaan, het jy in jou lewe nog nooit gesien nie. Hulle is al drie presies dieselfde – net hulle gesigte verskil sodat ek hulle kan uitken. Rugby is een hengse gekoekery om die televisie. Ek kan in daardie tyd die gordyne aan die brand steek, die bad laat oorloop, kaal deur die huis loop, niemand sal dit agterkom nie.

  Net “Ma, is daar tert?!”

  Om tafel word gejag, visgevang en rugby gespeel.

  “Kan ek die aartappelslaai kry, asseblief?”

  “Weet Pa, daar is definitief fout met die geweer. Vanoggend…”

 “Kan ek die aartappelslaai kry, asseblief?”

  “Ons moet dit seker maar net inskiet vanmiddag.”

  “Kan ek dalk die aartappelslaai kry? ASSEBLIEF!”

  “En weet Pa, toe ons vanoggend met die motorfiets…”

  “KAN EK ASSEBLIEF DIE AARTAPPELSLAAI KRY!!! AS-SE-BLIEF!”

  “Wat gaan met jou aan?”

  “Ja, jissie, Ma. Wat gaan aan met Ma?”

  Ek kan hulle nie meer tug soos onse oupas en oumas gedoen het nie. Pakslae is lankal verby. Hulle is net te sterk vir my. Junior spring rond soos ‘n sperm op steroïde. Senior kry ‘n giggel op hom wat my moermeter nog verder in die rooi druk.

  “Hel, Ma, rustig.”

  Maar ek het al geleer om nie te dreig met ‘n pak slae nie. Klap net. Vinnig, sekuur en met mening. Moenie dat hy dink jy is besig om die muskiet van sy skouer weg te klap nie. Dis skoktaktiek en dit werk vir so paar minute. Ten minste.

  Ek kan nou wel nie soggens hare vleg en ringetjies in die ore druk nie. Ek kon nie al daai cute dogtertjie-goete en pienk rokkies gekoop het toe hul klein was nie. Ek kan nou wel nie lekker shopping doen en van die een klerewinkel na die ander drentel saam ‘n dogter nie.  Ek kan net voor Sportmans Warehouse op die trap gaan sit en wag tot die manne al die vishoeke deurgewerk het, of voor Cymot in die kar bly sit as die toolbokse en camping gear bespreek word.

Maar ek kan ‘n pleister plak as ‘n baksteen op die toon geval het. Ek kan daai skurwe hakke insmeer met handeroom en toemaak met sokkie nommer 1 en sokkie nommer 3. Ek kan daai pense volhou met die lekkerste kos en die yskas laai met piesangtert en Jan Ellis-poeding. Ek kan daai vertrapte hart troos as die liefde nie uitwerk soos dit moes nie. Ek kan baie dinge doen, want ek is die ma van seuns.

One response to “Om seuns groot te maak”

  1. Dis n heerlike lees Zaan, ek was nou langs jou vir n oomblik, jou lewe gesien in my geestes oog, Van hulle baba-tyd op die bed met d Erongos as uitsig, tot Keyo se “hel Ma, rustig” met hip-hop wat klop!

    Like

Leave a comment