(soos in Huisgenoot verskyn)
“En daar sal geen blomme wees nie. Net vere. Wittes.”
Lorraine laat sak die boek op haar skoot en weet nie of sy moet lag of huil nie.
“Wanneer gaan ek so vinnig al hierdie goed gedoen kry? En nie in die kerk nie? Die res van die familie gaan mos ‘n oorval kry. Ouma was wragties nie meer by haar volle verstand toe sy dit geskryf het nie.”
“O, maar sy was, Lorraine. Kyk na die datum. Dit was vyf maande gelede. Ons almal weet sy was compos mentis tot die dag van haar dood. Sy was ‘n ander tannie dáái! Ek is seker as sy kon, sou sy in Las Vegas gaan trou het, mét ‘n nagemaakte Elvis en vals predikant.”
“Liewe hemel, Steyn, maar wat is hierdie? En waar het jy al gehoor van iemand wat haar begrafnis tot in elke fynste besonderheid reël soos sy? Hoekom het sy dit nie voor die tyd met ons bespreek nie? Nou, nóú, sit ek met die gemors.”
“Dis nie ‘n gemors nie, dis jou ouma se begrafnis.”
“Maar hoekom ék? Hoekom nie Ma, haar eie dogter, of een van die ander kleinkinders nie?”
“Want jy was haar witbroodjie. En jy weet jou ma sou dit net afgelag het. So, my liewe vrou, maak maar weer daardie dagboek van haar oop en spring aan die werk.”
Steyn kom staan agter Lorraine en gee haar ‘n soen op haar kop. “En met hierdie woorde van bemoediging, gaan ek jou nou los sodat jy die begrafnis van die eeu kan reël.”
Hy begin te lag en voordat hy kan keer, kry hy ‘n kussing teen die kop.
“Ag, los my, man. Die insanity in hierdie familie loop so hoog, dit gallop eintlik! G’n wonder Ouma het haar begrafnis in my hande gelos nie, want sy het geweet ek is die enigste normale een.”
“Gmf! Ek wonder partymaal.”
“Jy gaan my help, nè. Net dat jy weet.”
Sy maak die dagboek oop en begin van vooraf lees:
“Liewe Lorraine-kind.
Ouma weet dat jy nou woorde gaan uiter wat ons eerder nie moet hoor nie, maar ek het geweet jy sal verstaan wat ek alles bedoel. En los jou ma in hemelsnaam net hier uit. Sy sal alles opfoeter. Ek kan nie toelaat dat iemand wat Mills & Boon lees en cheap brandewyn drink my begrafnis reël nie. Ek is bitter lief vir haar, maar soms weet ek nie so mooi met haar smake nie. Laat ons nou nie teruggaan na die keer wat sy daardie kamerstel met die opgestopte groen fluweelkopstuk gekoop het nie. Onthou jy daai wit uitgekerfde spieëltafel? Siestog, sy boer nou nog voor die ding. (Jy het mý familie se gene, vir ingeval jy worry, hoor). Daarom kan net jy, my kind, want jy het klas. Nou laat ons begin.”
Lorraine gee ‘n diep sug en trek haar wynglas nader.
“Ek wil nie verkool word nie, ek wil in ‘n kis die grond gebêre word. Die kis moet so rooi soos granate wees. Geen satyn binne-in nie, asseblief – ek wil nie koud kry nie. Gaan koop van daardie sagte fleezy lap by die China. Spierwit.
“O, amper vergeet ek. Reël tog maar die hele affêre eers vir so twee weke, dalk langer, nadat ek die emmer geskop het. Dis altyd vir my so aardig as ‘n mens begrafnis moet reël so kort na die dood. Geen mens kan dan nugter dink nie. Laat almal maar eers tot verhaal kom – dan gee ons vir hulle rede om van vooraf te tjank! Geen gedrukte pamfletjies nie. Net geldmors en môre lê alles die wêreld vol gestrooi. Die soetsappige woordjies wat altyd daarop staan, het my nog nooit aangestaan nie.
“En hou dit ver uit die kerk uit, asseblief. Ek is nou nog vies vir ds. Gawie omdat hy nooit huisbesoek kom doen het nie. So, hy gaan nie nou die voorreg hê om my te begrawe nie. Maar dié het seker nou al jou drumpel platgeloop. Gmf, na al die jare!
“Jou huis sal mos werk, nè, Lorraine? Jou tuin is dan so mooi. Geen formele diens nie, asseblief. Julle kan maar elkeen net ‘n woordjie sê, so ietsie drink, lekker eet en dán vir my in die grond gaan druk.
“Ek sal graag wil hê jy en Steyn moet iets sê. Dan ook die volgende mense: My vriendin Hester – sy moet sommer die strykyster saambring wat sy twee maande gelede geleen het. My liefste Toon se broer, Frederik – laat hy sommer verduidelik hoekom hy Toon so verneuk het op die plaas. Kyk mooi of hulle huil, hoor.
“My kis moet ook daar staan – so tussen die bome. Ek hoop jou lelies blom. Almal moet vir oulaas na my kan kyk en besef wat hulle gaan mis. Hou net vir ou jagse Peet van my af. Net jammer die begrafnisondernemers gaan ook daar wees om my in en uit te laai met daai
komieklike lang wa van hulle. Net hul teenwoordigheid laat enige iemand sidder – gee maar ‘n ou ietsie om te drink, man.
“Los maar die gesingery. Mense kan nie tjank en sing gelyk nie. Speel lekker musiek. Iets soos “Lenie Blou” van daai Spoeg-ouens. My naam is nie verniet Lenie nie. Dan iets van Elvis. “My Way”. Ja, “My Way” van Elvis sal perfek wees. I lived my live my way, of hoe sê ek dan nou? En dan ietsie lewendig. Wat van daai ding wat Steyn altyd speel as hy braai? Jy sal weet, man. Ja, daai enetjie wat my altyd so lus maak om te dans.”
“Ag, liewe hemel, Ouma! Net nie dit nie. Rooi Willie? Die mense gaan mos weghol. Dis net ‘n getjommel van klank. Wonder of Ouma al na die woorde geluister het!”
“En dan by die graf: “At last” van Etta James. Maar genoeg musiek vir nou eers.”
“Normale mense sing Psalms en Gesange, ouma Lenie.”
“By jou huis moet daar ‘n glasie sjerrie vir elkeen wees wat aankom. Daar moet ook sjampagne wees en niks tee nie; ons is nie Ingels nie. Koffie, ja. Hulle moet sommer jollie wees as hulle by die begrafplaas aankom. En asseblief geen gestopte eiers en hoenderboudjies nie! Ook nie driehoekbroodjies met groen en geel vulsels nie. Maar jy is mos goed met die kosbedryf, jy sal weet. Dis nou vir by die huis, nè. Ek weet ek draai die hele bedryf agterstevoorom. By die begrafplaas kan almal maar hul ry kry; genoeg gehuilery vir een dag.”
Lorraine besef hoe ‘n voorgevoel van ‘n fiasko besig is om op haar vel te kom lê. Moet hierdie mense nou met hul sjampagne-lywe in ‘n stoet begrafplaas toe ry? Netnou kuier hulle so lekker dat sy hulle nie by die begrafplaas kry nie. Dan wil ek sien hou Ouma gaan rondkriewel in daardie wit fleezy lap binne-in daardie kis!
“En daar sal geen blomme wees nie. Net vere. Wittes.”
Wat ek waar moet kry? wonder Lorraine.
“Maak asseblief ook van die vere aan die karre vas. Wat ‘n mooi stoet sal dit nie wees nie!”
En dan lyk ons soos die Samba-fees in Rio? Ek sien al daardie gedoente met wynlyfbestuurders en wit vere wat by die vensters uitsteek.
“Die belangrikste: niemand mag swart aantrek nie. Hierdie nonsens dat mense dink begrafnisse is vir daai swart rokkie wat al jare in die kas hang en motbolle opgesuig het. Nee my kind, hou dit so vrolik moontlik. Hoe bonter hoe beter.
“O ja, amper vergeet ek van my. Ek wil my trourok aanhê. Jy weet mos dit hang nog in die spaarkamer se kas. Net vir ingeval oupa Toon gedink het hy kon vir hom ‘n ander vrou daar bo gaan staan en vat het. As hy sy oë uitvee, staan ek langs hom met my trourok aan. En kaalvoet – my trouskoene sal nie meer oor hierdie knopperige tone van my kom nie. Ruik net eers of die rok nie dalk ook na motbolle ruik nie. Spoel maar uit, maar moenie te lank in die son laat hang nie; die lap is seker teen hierdie tyd al redelik teer.”
Lorraine bars uit van die lag. Sal sy nou wraggies na al die jare oupa Toon se lewe nog steeds vir hom vir reël, al sit hy al lank al daarbo.
“My lippe moet so pienk soos strawberry roomys wees. Nie te baie blou op my oë nie. En dan wil ek weet of jy by daai mannetjie van Avbob sal hoor of hulle my hare sal kleur. Ek wou nog altyd rooi hare hê. Wonder wat oupa Toon sal sê? Hy wou mos nooit hê ek mag my hare gekleur het nie.”
“Ek twyfel, Oumatjie, maar ek sal probeer.”
“My naels moet so pienk soos my lippe wees, en kortgeknip.
“Dis dan nou die hele begrafnis, Lorainne. Die belangrikste is dat julle sommer lekker moet tjank en dan sommer daarna lekker moet lag. Dis maar eintlik net nog ‘n party vir my; al sal ek nie regtig by my eie party wees nie.
“Dankie, my kind, Ouma waardeer jou moeite. Ouma is lief vir jou.”
“Ouma laat my nie veel van ‘n keuse oor nie, nè, maar ek dink ons sal dit gedoen kry – ek weet net nie lekker van die rooi hare nie!”
