Die woord “konservatisme” is afgelei van die Latynse woord “conservare” wat “bewaar” beteken. En dis net hier waar my corpus callosum middeldeur breek. Om te bewaar = kom ons hou dit in ‘n veilige plek = kom ons hou dit tussen ons = kom ons bedek dit = hou net jou bek.
Of is dit ’n geval van klou aan die konserwatiewe bloot om nie die ou beproefde waardes te laat vaar nie? Of om oorgelewerde tradisies te bewaar en om bloot net ‘n sentristiese beleid na te volg omdat dit beide kante toe veilig speel? Klou ons nie net dalk aan “die goeie ou dae” omdat die masker oor die oog darem net te gemaklik sit nie?
Waaraan ons ookal wil klou, moet ons in gedagte hou dat enige samelewing twee kragte het wat op mekaar inwerk: behoudende en vernuwende, konserwatiewe en progessiewe kragte. As die een sterker as die ander een is, begin die rooi ligte flikker. Which is not a bad thing. Maar wat my pla, is om behoudend te bly for the sake of covering.
Ons kan maar net tot die tagtiger jare terugdink. Om verder te gaan kan dalk net te gevaarlik raak. Net om ‘n voorbeeld te noem: Darwin se evolusieleer – verban in skool en kerk. Vandag word daar posters gedruk en in klaskamers opgeplak. Is dit ‘n goeie ding? Geen idee! Dis anyway iets wat ek nog nooit verstaan het nie.
Tienerswangerskappe. Destyds was dit die grootste skande naas die Clinton-Lewinsky sekskapade. Armige kinders is geskors en tot die hel verdoem. Vandag praat ma’s met hul dogters oor voorbehoed soos oor ‘n koppie rooibos met die buurvrou.
Seksuele mishandeling in die Rooms-Katolieke Kerk is so oud soos Florence Nightingale se lamp. For the sake of church and believe, for crying out loud – kom ons praat tog net nie daaroor nie. Geen wonder Sinéad O’Conner het ou John Paul II se kiekie verbrand nie. Jehova Getuienis – in my lewe nog nie van soveel cover ups gehoor nie. Weereens, dit bly tussen ons, nè. Moet net nie ‘n bloedoortapping kry nie, al is jy besig om te dooi, want vir onrein bloed sien ons nie nou kans nie, nee.
In ‘n dokkie oor Stewart Wilken alias Boetie Boer (ja, ja, ek weet ek het ‘n waansinnige fassinasie omtrent die man), word daar met een van sy destydse onderwysers gepraat – wat erken dat hulle in daardie jare (1980’s) niks geweet het(!) van seksuele molestering en hoe om dit te hanteer nie. Want dit was só maklik en veilig om niks te weet nie. Hou dit maar tussen ons. Stewart is seksueel aangerand en mishandel vanaf tweejarige ouderdom. Die diaken in die kerk (nogal die jeugleier, bid jou aan!), die onderwyser in die verbeteringskool, mede-skoliere, noem dit maar op.
Maar nou loop ek lang draaie om te sê wat ek eintlik wil sê. Dis maklik om te glo ons bly by die ou waardes, want dit werk. News flash: dit werk NIE altyd nie!! Langenhoven skryf nie verniet dat stilbly ook ‘n woord is en daarom kan jy daarmee ook lieg. “Jy beny my my blink skoene omdat jy nie weet van die liddorings wat binne-in is nie.”
Moet tog net nie oor seks te praat nie, asseblief! Vinger-oppi-mond. Netnou hoor die kinders. Jy kan gerus jou mond oor ander dinge uitspoel, maar moet net nie oor seks praat nie. Los met die bek, parra op sy plek.
Sal ek dan nou ooit vergeet toe dit kom by die voortplantingshoofstuk in my matriekjaar nie. Die konyn! Ja, ons het die konyn behandel, want dit was bloot net nie aanvaarbaar om vir ‘n klas 18-jariges van die penis en vagina te vertel nie. Ek kon sederdien nog nie die ooreenkoms tussen konyn en mens agterkom nie. Hallo! Ons praat van getálle hier!
Vandag mag ons darem praat oor seksuele orïentasie; voorheen is dit onder die mat gevee. Boetie is gedwing in ‘n huwelik met Sannie en Sannie is so verlief sy beweeg soos ‘n ruspe deur sagte plank. Want die samelewing verwag dit van jou! Of jy nou jou en ‘n ander se lewe verwetter, daai happy wedding vows sal jy uitwurg.
All for the sake of waardes en konserwatisme wat vir gemakdoeleindes net ‘n blote cover-up is vir die duiwel wat met gemak doer onder draai.