Ingrid sê die kind is nie dood nie

Wanneer hou ‘n ouer op waak oor sy kind? Kom daar ‘n tyd wat die swaan besluit: nou swem jy self verder?

Die swaar metaalstem van Francois Breytenbach Blom ry saam met my deur die strate. Hy voer Ingrid Jonker tot ‘n punt waar sy sê: die kind is nie dood nie, die kind loer… in die harte van moeders. Die kind blý loer – en dit is wat die vraag laat borrel: wanneer hou ek op swaan oor my kinders? Laat ons hulle werklik toe om alleen verder te swem? Is dit nie juis ons, die ouers, die volwassenes, wat hulle gesnoeid wil hou nie? Die Sharpeville daar buite bly onverskrokke en wreed. Dis nie meer die koeëlmoord op 69 mense wat my bangmaak nie, dis die moord op ‘n kind se hart.

“die kind wat net wou speel… die kind wat ‘n man geword het… die kind wat ‘n reus geword het.”

Ingrid se swart vrou met die dooie kind in haar arms skree na elke ma met die lewe van haar kind in haar hande. Is Simone daardie baba in jou arms, Ingrid? Vir hoe lank kon jy haar red? En jouself, Ingrid?

Kinders word onskuldig deel van die betogings van die lewe. Ons betogings – óns, die volwassenes van die wêreld met ons grootmensstruwelinge. Ons laat hulle skree vir geregtigheid, maar ons laat hulle in die middel van die wanorde. Ons plak ook die pleister oor die skade. Ons raak die nom de plume vir die oorsaak van die kind op sy knieë. Ons bring die nag, en wag soos klipuile vir die muis wat verbyhol.

Ons klou, ons beskerm. Maar die kokon bars tog iewers. Was my sydrade sterk genoeg sodat jy verder kan spin, my kind?

Tog mag ‘n kind opstaan… of mag hy? Het hy die reg om die reg te hê?

Die kind wat opstaan, word platgeskiet. Die kind wat praat, word gesnoer. Die kind met sy hand in die lug, word geamputeer. Waar, o waar dan, Ma, is my stem? Julle, júlle met die jare en die lewe aan julle kant, júlle lei ons teen die rank op, maar as ons bo is, trek julle die seil oor. Wat het julle ons geleer van teleurstelling? Van onregverdigheid? Van staan in verbystering teen die volwasse mag wat die finale sê oor ons het? Raak ons die meanders in jul vloei?

Ingrid…, jy wou sê?

My kind, dit help nie jy staan in die reën en huil nie, niemand gaan jou trane sien nie. Lig jou kop in die lig van die vlamme – jy kán skyn.

My kind, ek gee jou ‘n pas: the world is your oyster.

— Lizanne Gerber Kruger —

Leave a comment