Tequila, Jägermeister en Po-tên-sie. Wat? Seker Potency, sê sy langs my met 'n skalkse glimlag. Geen uitdrukking op die gesig van die een agter die toonbank nie. Gooi maar daai Po-tên-sie. Twee. Klink soos Patensie. Waar's Patensie nou weer. Weskus? Iewers in die Kaap? Ons is altwee verkeerd. Oos-Kaap. Patensie is in die Oos-Kaap. Kan ek ook 'n glas wyn kry, asseblief? Rooi of wit? kom die vraag. Ek bespeur 'n sommeliers-afwesigheid. Ons wynglase is op. Nou gooi dan sommer hier in hierdie een. Ek stoot my leë glas vorentoe waaruit ek so pas gin gedrink het.'n Moerse groot glas. Sy gooi dit... vol... en sit die draught rooiwyn voor my neer. O...kay...!Wat skuld ek jou? Ons somme klop nie. Die musiek woel voort. Die een op die stage gooi Johnny Cash en ons almal go to Jackson with our tails between our legs. Skouers ritmies op en af op die two beat. I walk the line for you, my darling. Yes, admit I'm a fool. En ons slaan ons hande saam vir die drummer al die pad van ver. Get rhythm when you get the blues en die vrou agter my skree "joe-hoe!" Oh darling, stand by me. Ek sukkel om die papegaaie op die handgeverfde tafeldoek onder my arms onder beheer te kry. Die rooiwyn wil nie minder word nie, maar ek het vir Johnny ontdek. Ek cash in. Johnny is nie dood nie, Johnny was 'n cowboy. Tussen asbakke en bottels, en al daai weird scenes. Nachos op die spyskaart, lees ek. Sit dit dan net in die mikrogolf, vra ek. Ek ken nie van koue Nachos nie - die kaas moet smelt anders val dit die wêreld deurmekaar. Brrrr begin die masjientjie bewe en daar gaan die krag. My Nachos het die hele venue in donker gehul. My oë traan en my neus loop, maar die lekkerte is in. Daai sous brand die hel uit my uit, maar die honger is stil. Nog steeds wil die papegaaie nie hul lê kry nie. Reach out,touch me. Someone to hear my prayers, someone who cares. My own personal Jesus. "Feel free to sing along!"sê die een op die stage. When a man comes along, the hair on your arms will stand up. Feel free, het die man op die stage gesê. Dis die sustermaan vanaand, sê sy oorkant my. Geen wonder die volmaan daar bo vorm curves en claws in my kop nie. They call me the wild rose, give me your loss and your sorrow. Am I Eliza Day? Amazing grace vul die lug, effens met 'n American twang. En ons lig nog steeds die skouers - ritmies, maar vergrendeld. Lost in rhythm, rooiwynlippe, Po-tên-sie nog soet op my vinger. Rustieke omhelsing van vuurvlamme en sigaretrook. Bedwelmde magnitisme to the men in black wat snaartrek en tromslaan. Die papegaaie wil nie gaan rus nie. - Lizanne Gerber Kruger -
