,

Die Ding omtrent Rugby-ma’s

‘n Mens kry golfspelers, tennisspelers, snoekerspelers, netbalspelers… en dan kry jy rugby-ma’s – ‘n klas op hul eie. Geen ander kategorie, of dit nou gewerweldes, ongewerweldes, Toyotas of lipstiffies is, kan vir hulle plek maak nie. En met respek ook, want rugby-ma’s het talente, visie, karaktertrekke en eienskappe wat só uniek is dat dit eenvoudig ge-ink móét word.

Of dit reën, sneeu of hael, Rugby-ma is op haar plek. Of die son die wit waks uit haar brand, sy die een plooi na die ander voel aankom en of die wind haar gedoende kapsel waai tot ou staalwol, sy is dáár! Langs die veld om haar bloed te ondersteun.

Maak ook nou nie saak in watter kategorie Rugby-ma’s val nie, hulle het almal common ground: daardie kind op die veld. Of dit nou Sarel Stut, Hennie Haker, Vernon Vleuel of Frikkie Flank is, sy het daardie kind gebáár. Nege maande van sooibrand en kotsstrepe is vergete. Nagte sonder slaap, flinke piepieboë wat spat as jy die doek afhaal en ‘n angsaanval met sy eerste fietsrypoging, is net vae herinneringe. Of hy nou so groot soos ‘n bus of so pieperig soos ‘n piepsiekhoender is, dis haar eie – haar trots!

Maar rugby-ma’s is nie almal dieselfde nie. Neem nou maar byvoorbeeld die Pawiljoendiva. Sy sit altyd nét op die pawiljoen en as daar nie een is nie, het sy ‘n opvoustoeltjie styf onder die arm vasgeknyp. Maar dan is sy knorrig, hoor, want sy wil hoog sit. Pawiljoendiva dra skouerstrêppie- rokkies van Truworths, fyn sandaaltjies, serpie en wit hoed. Egte leerhandsak oor die skouer en Gucci-sonbril. Soms ‘n denimbaadjie oor die skouer, want wintersport kan geniepsig raak. Kussinkie en wet wipes, want pawiljoene is vuil. Sy gee so nou en dan ‘n gilletjie en kyk dan rond om seker te maak dat sy die regte gil op die regte tyd gee. Selfoon altyd binne bereik net ingeval sy iets op sosiale media sal mis. Soms tot ‘n tydskrif in die handsak. Sy vloek nooit.

Soos die naam aandui, beset die Pawiljoenbesetter die pawiljoen. En sy het net een plek en dis regoor die middellyn. Maak nie saak wie daar sit nie, sy sál daar sit. Sy is luidrugtig! Haar gille is so kragtig soos ‘n vroegoggendpoep. Die toeskouer voor haar het ‘n voosgeskopte rugstring en dié agter haar nekspasmas. Sy raak erg geïrriteerd as daar van haar soort om haar sit. Sy ken die game soos haar telefoonnommer en sy sorg dat jy na haar game plan luister.

Sommige velde het nie pawiljoene nie, daarom log Veldholler-ma normaalweg in op ‘n totale afstand van een 400-meter en twee 200-meters. Hang natuurlik ook af hoeveel keer liefkind pale toe hardloop. Sy is saam met hom agter die pale en brand om hom teen haar boesem vas te druk. Dan stap sy terug met ‘n bors soos ‘n pou. “Jitte, julle! Het julle daai gesien, huh? Kom, Vernon! Nog enetjie vir Ma! Druk hom, my kind, druk hom!” Sy gee nie om hoeveel sy in haar lopies langs die veld omhol nie. As jy in haar pad is, is jou koffie nou op die grond of jou sonbril skeef op jou neus. Sy skouer soos ‘n vleuel en hol soos ‘n beginner-hekkieatleet oor die sportsakke langs die veld. Sy gesels nie lospraatjies met die ander ma’s nie – sy fokus. Haar grootste irritasie is as die spel te lank aan die ander kant van die veld is. Sy het ‘n absolute renons in enige vlagman, want hulle vermaan haar te veel om van die veld af te gaan en hulle is bloot in haar pad.

Die Cheerleader-ma kan maklik verwar word met die afrigter van ‘n toutrekspan. Met arms wat ritmies van links na regs beweeg – vrou-alleen dryf sy die span van een paal na die ander. “Kom manne, kôôômmmm! Bring die bôl, kêrels! Daarsy! Yes! Swing! Gebruik die agterlyn! Maar my herre, waarheen skop jy? Kry hom weer…daarsy, dis mooi. Komaan boys, quick ball, quick ball. Bring daai bal! Yes! Ysters!”Sy gee ‘n hoppie aan die einde van haar lopie en soos ‘n troep in gelid draai sy om en begin van vooraf. Sy het ook geen genade vir die res nie, maar darem meer respek vir die vlagman. Sy maak dit haar doel om seker te maak dat almal verstaan wat aangaan en wat die puntetelling is. Sy ken elke speler op die veld – sy ma, sy pa en al sy beserings van die afgelope vyf jaar.

Sorg dat jou paaie nooit met Aggressie Griet kruis nie. Behalwe vir jou skouer wat uit lit gestamp word en jou Coke-without-sugar wat oor jou en die ander mammas sproeireën, leer jy ook ‘n hele rits nuwe woorde aan. Sy vat hom van onder die rok tot hoog bo die wolkel. “Kan die #$%^&$ ref nie sy oë oopmaak nie! Hi ref, jy kan my bril kry, hoor!”  Sy’s gewetenloos besig om die skeidsregter die reëls te leer, een sigrêt na die ander onder ‘n graspol te versteek en arme Pietertjie te vertel wat hy weereens verkeerd doen. “Het jy $^# in jou hande, my kind? Vang die blêrrie ball!” “Hei jy, klim van my kind se kop af! $%& jou ook! Ons het mos ‘n game plan, hoor!” Sy ken die reëls en weet presies waar die bal oor die lyn is en bewaar enige vlagman wat 1 cm uit is. Aggressie Griet word gereeld op ‘n Maandagoggend deur die skoolhoof ingeroep, maar volgende Saterdag swets sy weer die volgende game die duisternis in en arme Pietertjie bid dat hy nooit weer span kry nie.

Snoepievreter is erg teleurgesteld as sy by die veld opdaag en daar is nie ‘n snoepie nie. Sy het nie vanoggend geëet nie en het nou so uitgesien na al die pannekoek en hot dogs. Sy het haar hele Keto en Intermitted fasting al die vorige dag gelos, want vandag gaan sy cheat soos nooit tevore! Geduldig wag sy tot die sosaties klaar gebraai word. Tydsaam lees sy die pryslysie langs die snoepietoonbank deur. Sy sorg dat sy genoeg servette vat vir die tamatiesous wat drup. Sy koop solank haar kind se koeldrank vir die oomblik wat hy van die veld afstap. Ongelukkig mis sy gewoonlik die helfde van die wedstryd, want teen die tyd dat sy klaar ge-shop het, is die manne al besig om hul hamstring straps in die kleedkamer af te ruk.

Nou mammas hou mos van foto’s van hul kinders en daarom is daar ook die Kiekie-mamma. Sommiges neem sommer foto’s met hul selfone, maar sy hou van in en uit zoom. Haar kamera het sóóóó lang lens en sy zoom in tot op elke sweetdruppel.  Jy staan ook nooit in háár pad nie. Sy mis gewoonlik die vloei van die game, want sy gefokus op die wisselwerking tussen lens en speler.  Nog nie eers by die huis nie, of haar foto’s is op die rugbygroepie –  al 94 van hulle!

Daar is ook ma’s wat opdaag net omdat Gertjie hierdie week span gekry het net omdat die helfte van die span siek of beseer is. Daar was toevallig ‘n plekkie oop in die span en Gertjie kon dit vul. Tannie Soetjiespoep weet niks van die spel nie. Sy duik met elke tackle agter ‘n ander ma in en knyp haar oë styftoe. Sy tel in ene en verstaan nie die eindtelling nie – haar somme klop nooit met die telbord nie. Sy skree wanneer sy nie moet nie en juig wanneer die noodhulp opgeroep word. Sy verloor belangstelling net voor halftyd, want teen hierdie tyd het Gertjie nog net mooi niks verrig nie en is haar kop heeltemal deurmekaar van die ander ma’s se gegil.

Vera Verward se naam, om dit sagkens te stel, is gewoonlik gat – sy weet nóg minder. Soms raak sy tot met die spanne deurmekaar. Soms selfs met die tye! Dan bring sy vir Frikkie ná halftyd eers veld toe. Tydens die wedstryd is sy ‘n absolute irritasie. “Wat het nou gebeur?” “Wag en kyk, Vera!” “Maar ek kyk – hoe anders kan ek vra wat aangaan?” “Nie nou nie, Vera, fokus!” “Maar was hulle nie onkant nie, huh? Is hulle nie eintlik aan die verkeerde kant van die veld nie? Aan watter kant speel ons span?” “Vera, die rooi span speel na regs en die blou span speel na links.” “Nou watter span is ons dan nou?” “(sug)Die geel span.” “O, nou sien ek.” Sy wil die heeltyd alles weet. Elke keer as die fluitjie blaas, wil sy weet hoekom. As daar pale toe geskop word, wil sy weet hoekom. As iemand van die veld afgestuur word, ween sy tot hy terug is.

Dit is die ding omtrent rugby-ma’s – liggaam, siel en gees langs die veld; party sommer bo-op die veld. Daar word ‘n bond gevorm. Skouer-aan-skouer lag, huil en vloek hulle. Party ken die reëls, ander dink hulle ken dit. Hulle pak sonblok, verbande en water in. Hulle loop van winkel tot winkel opsoek na die regte tokse. Hulle is dáár, want hul bloed speel die game. Come hell or high water, hulle mis níks!

– Lizanne Gerber Kruger –

(ook as opvoering beskikbaar)

Leave a comment